Proveld Bonsmara.

In 1998 het sewentien Bonsmara telers uit die Vryburg-omgewing 51 bulle ingeskryf vir 'n toets op die veld. Van die staanspoor was dit duidelik dat die veldtoets nie vra wie die teler is nie - as 'n bul nie beskik het oor gehardheid en aangepastheid nie, het hy nie die paal gehaal nie. Die getal telers wat bulle ingeskryf het vir die toets het drasties afgeneem - iets waarvoor 'n mens begrip het: Bulle wat andersins moontlik veilings sou haal, moes geslag word.

Vier bittereinders het egter die moed van hulle oortuiging gehad en het deurgedruk! Hulle was die stigters van die Proveld Bonsmara Groep. Oor die ongeveer 10 jaar van die groep se bestaan het ander telers wat die stigterslede se visie deel by die groep aangesluit tot waar die lede tans bestaan uit twaalf stoetlede. Dertien kommersiële telers het ook by die groep geafilieër as kommersiële lede daarvan. Deesdae word ongeveer 250 Bonsmara bulle per jaar by Proveld getoets waarvan ongeveer 45% geslag word omdat hulle nie die mas opkom in die strawwe toets nie. Diè wat wel die toets slaag, word aangebied op Proveld se veilings wat jaarliks plaasvind op die tweede Woensdag van Februarie en Junie en die derde Woensdag van Oktober

Waar daar op die eerste veldbulveiling in 1999 12 bulle verkoop was, het Proveld tydens hul 2007 Oktober-veiling 50 bulle aangebied en 'n 100% verkoopsyfer behaal.


Enkele faktore wat 'n Proveld-bul onderskei:

Elk van die elf stoetlede van die groep selekteer bulle wat belofte toon vir inskrywing in die veldbultoets. Uitgesoekte bulle word gevolglik teen mekaar getoets

Bulle loop saam van speen tot op die dag van veiling

Bulle word onder dieselfde toestande getoets as waaronder vroulike diere op die veld moet presteer

Bulle ontvang geen voer gedurende die toets nie en moet hulself op die veld bewys met slegs 'n lekaanvulling

Bulle word op die veld voorberei vir veilings en is gevolglik op die dag van die veiling fiks en gereed om te werk

Geen vet neerlegging vind plaas in skrotumnek nie

Die grootte van die groepe wat teen mekaar getoets word, verseker dat die uitslag daarvan mèèr gewig dra as byvoorbeeld 'n toets waarin slegs tien bulle teen mekaar getoets word

'n Groot verskeidenheid vaars se seuns word teen mekaar getoets

Bulle wat die beste gevaar het in die veldtoetse word onder die Proveld lede gesirkuleer. Kopers kry die geleentheid om van hierdie bulle se nageslag te bekom en om daardeur die gene wat gehardheid en aangepastheid verseker in hul eie kuddes te vestig

Nagenoeg 115 bulle word jaarliks geslag omdat hulle nie voldoen aan Proveld se streng maatstawwe nie. Slegs die oorblywendes ontvang die merk van gehardheid en aangepastheid- 'n klawer brandmerk

Wanneer dit dus kom by die koop van 'n bul, koop 'n bul wat vir homself op die veld kan sorg en ... WEN OP DIE VELD!



Tuisblad : Oor Proveld : Nuus : Stelsel : Veilings : Katalogus : Uitslaë : Kontakte : Lede

Copyright © 2009 Proveld Bonsmara - All rights reserved